
Wat is 'n Gemeente?
Die Gemeente van Christus word as Sy liggaam beskryf, waarvan elke weergebore Christen ‘n lid is
( Rom. 12:4-5 ; 1 Kor. 12:12-13 ; Efés. 1:22-23 ; Efés. 2:16 ; Efés. 3:6 ; Efés. 4:12 &16 ; Efés. 5:23 ;
Kol. 1:18 & 24 ).
Hierdie intieme verhouding met Jesus Christus spruit voort uit die feit dat die Gemeente deur Hom gered is
( Efés. 5:25-27 ), gekoop is met Sy Bloed ( Hand. 20:28 ), geheilig is ( Efés. 5:26-27 ), gegrondves is ( Efés. 2:19-20 ), gebou word ( Matt. 16:18 ), bemin word ( Efés. 5:25 ) en aan Hom onderworpe is ( Rom. 7:4 ).
Die Gemeente van Christus word op die plaaslike vlak meesal deur klein Gemeentetjies verteenwoordig wat hulle doelwitte nie deur krag of geweld bereik nie, maar deur die werking van God se Gees. Die ware gemeente moet teen menslike vervalsings en bondgenootskappe met die wêreld waak deur getrou aan sy roeping en opdrag te bly.
Die volgende is die agt belangrike eienskappe van die Gemeente. Christene moet hierdie kenmerke in hulle volste potensiaal en suiwerste vorm uitleef sodat die Gemeente geestelik opgebou, siele gered, nuwe Gemeente gestig en dwalings deur onkundige mense en valse profete weerstaan kan word:
1. Die Uitgeroepenes.
Die Nuwe Testamentiese term vir die Gemeente, of Kerk, van Christus is die ekklésia – dit beteken letterlik “die uitgeroepenes.” Dit is diegene wat uit die duisternis van sonde en verlorenheid uitgeroep is en oorgekom het
tot die wonderbare lig van Christus ( 1 Pet. 2:9 ). Deur ‘n geestelike wedergeboorte het die Here van hulle nuwe mense gemaak ( Joh. 3:3 ). Die ware Gemeente van Christus bestaan dus slegs uit weergebore Christene. Hulle moet spontaan en openhartig van hulle veranderde lewens kan getuig, anders kwalifiseer hulle nie om lede van die Gemeente van Christus genoem te word nie.
Die toepassing van hierdie beginsel vir lidmaatskap blyk duidelik uit Handelinge 2:47 – net gereddes word by die Gemeente van Christus gevoeg. ‘n Mens móét eers teenoor die Here Jesus jou sondes bely ( 1 Joh. 1:9 ) en jou geloof in Hom as Verlosser stel ( Hand. 16:31 ) sodat Hy jou geestelik lewend kan maak ( Joh. 5:24 ). Dán eers behoort jy aan Hom en is ‘n lid van Sy liggaam, of Gemeente, op aarde.
So baie mense doen nooit ‘n eerlike sondebelydenis nie en kom dus nie werklik tot bekering nie. Hulle sluit in hulle ongeredde toestand by Christelike Gemeente aan, maar uit ‘n Bybelse oogpunt behoort hulle nie aan die Gemeente van Christus nie. Hulle is vormgodsdienstiges wat net ‘n gedaante van godsaligheid het ( 2 Tim. 3:5 ; Titus 1:16; Open. 3:1 ). Die Here sal hierdie vormgodsdienstiges eendag wegwys, al het hulle ook aan kerke behoort en selfs in die Naam van Jesus gepreek ( Matt. 7:21-23 ). Groot verdeeldheid en onmin kan in Gemeente ontstaan as “valse broeders” ( 2 Kor. 11:26 ; Gal. 2:4 ) insluip en voorgee om gelowiges te wees, terwyl hulle in werklikheid totaal deur die sondige vlees oorheers word.
2. Tempel van die Heilige Gees.
Die Gemeente van Christus het die opdrag om heilige, Geesvervulde lewens te lei. Hulle moet die oue mens
aflê en hulle met die nuwe mens beklee ( Efés. 4:22-24 ; 1 Thess. 5:22-24 ). Lede van die Gemeente van
Christus moet begryp dat die Heilige Gees nie net uitgestort is om hulle van sonde te oortuig en te wederbaar
nie – hulle is ook geroepe om ‘n tempel van die Heilige Gees te wees sodat hule God-verheerlikende lewens kan
lei ( 1 Kor. 6:19-20 ). Die Heilige Gees wil hulle vervul sodat hulle oorwinnend oor sonde, versoekings en die vlees kan leef ( Gal. 5:16 ), en ook diensbaar in die Koninkryk van die hemel gemaak kan word ( Hand. 1:8 ; Efés. 5:18 ).
3. Die Liggaam van Christus.
Deur die wedergeboorte word ons in die liggaam van Christus gedoop ( 1 Kor. 12:13 ). Soos ‘n liggaam ‘n organiese eenheid is waarin die verskillende lede mekaar aanvul, is dit ook die geval met die liggaam van Christus
( Rom. 12:4-8 ; 1 Kor. 12:12-31 ). Saam met ander lede kan jy jou talente en gawes op ‘n aanvullende wyse tot
die uitbreiding van God se koninkryk aanwend ( 1 Pet. 4:10 ). Die plaaslike Gemeente moet daarna streef om ‘n volwaardige weerspieëling en verteenwoordiger van die korporatiewe liggaam van Christus te wees.
Beoefen jou taak en roeping slegs in die krag en onder leiding van die Heilige Gees omdat ons die Here nie deur die krag van die vlees kan behaag nie. Die outoriteit van jou Gemeentelike roeping is net in Christus, en die Heilige Gees bekragtig jou om dit uit te voer. Jy staan op oorwinningsgrond wanneer jy jou roeping in diepe afhanklikheid van Hom alleen beoefen. Ons hoof is die Here Jesus wat ons roep, toerus, lei én uitstuur ( Efés. 1:17-23 ).
4. Klein kuddetjie.
God se Koninkryk word deur die klein kuddetjie van Sy Gemeente geopenbaar ( Luk. 12:32 ). Christus se volgelinge is soos ‘n kudde skape wat deur die Goeie Herder gelei en versorg word. Hulle is diep afhanklik van Hom om hulle na groen weivelde te lei, te beskerm en deur elke gevaarlike situasie te lei ( Psa. 23:2-4 ). Die Herder ken sy skape, voorsien in hulle behoeftes en weet om hulle uit elke benoudheid te verlos – ook van die duiwel self ( Matt. 6:13 ; Joh. 10:14-15 ). Die Opperherder het ook opsieners aangestel om verantwoordelikheid te neem met die versorging van sy kudde ( Hand. 20:28 ).
5. ‘n Pilaar en grondslag van die waarheid.
Die Gemeente van die lewende God is “’n pilaar en grondslag van die waarheid” ( 1 Tim. 3:15 ). Dit moet ‘n kenmerk van die Gemeente van Christus wees dat dit die Bybelse leer oor die saligheid in stand hou sodat mense nie in dwalings verval nie. Die Gemeente móét dus ‘n apologetiese, of verdedigende, bediening hê waarin die suiwer Christelike leer teen dwaallerings verdedig word.
Daar rus ‘n verantwoordelikheid op die herder om toe te sien dat lidmate oor die sektes ingelig is en in staat is om dwalings in die lig van die waarheid van die Woord te kan weerlê ( Judas 1:3-4 ). Die waarheid van die Woord het ‘n vrymakende krag ( Joh. 8:32 ), en in die volle lig daarvan sal elke dwaling geopenbaar word.
6. Dissipels van Christus.
Alle gemeentelede moet daarna streef om aan die standaard van dissipels van Christus te voldoen, want só
alleen kan hulle waardige verteenwoordigers van God se koninkryk wees. Die Here Jesus het sy dissipels geroep
( Matt. 4:19 ), onderrig ( Matt. 28:19 ; Joh. 14:26 ), toegerus ( Luk. 24:49 ; Hand. 1:8 ) én uitgestuur ( Matt. 28:19 ; Luk. 10:3 ; Joh. 20:21 ).
Die opdrag van dissipelskap maak van die Gemeente van Christus ‘n aktiewe, uitwaarts-gerigte groep wat op die evangelisering van die nie-Christelike wêreld ingestel is. Oral waar groepe gelowiges tot stand kom, moet nuwe Gemeente gestig word – al is dit ook in die huise van Christene. By hulle byeenkomste moet gelowiges opgelei word om self ook dissipels te wees wat die Woord verder sal uitdra. Op hierdie manier word die Koninkryk van Christus op aarde uitgebrei.
7. Die Bruid van die Lam.
Die Gemeente is die Bruid van die Lam. Deur ‘n proses van heiligmaking moet ons voorberei word om eendag
op ‘n waardige wyse, sonder vlek of rimpel, voor die hemelse Bruidegom te verskyn ( Efés. 5:26-27 ). Die heiligmaking wat so ‘n noodsaaklike voorbereiding vir ons ontmoeting met Christus is, behels twee duidelike aspekte. Die eerste is persoonlike heiligheid. Ons moet nie onrein, sondige gewoontes hê waardeur ons na gees, siel of liggaam besoedel word nie ( 2 Kor. 7:1 ; 1 Thess. 5:23-24 ).
Tweedens moet ons werke doen waardeur die Here behaag word, omdat “heiligmaking” ook as “afsondering vir die diens van die Here” vertaal kan word. Daar moet dus bepaalde werke in ons lewens wees as die vrug van die Heilige Gees wat deur ons werk. Hierdie werke verseker ook dat toegewyde Christene ‘n paslike bruilofskleed sal hê ( Open. 19:7-8 ; Kyk ook Psa. 45:10-11 & 14-16 ).
8. Die lig van die wêreld.
Ons is geroepe om die lig van die wêreld te wees ( Matt. 5:14-16 ). God se Gemeente moet soos ‘n kandelaar wees wat sy lig te midde van geestelike duisternis laat skyn. Ons verteenwoordig Sy Koninkryk in ‘n verdorwe wêreld wat in die mag van die Bose lê ( 1 Joh. 5:19 ). Ons moet onder geen omstandighede enige kompromie met die skewe en krom weë van die wêreld maak nie, maar streng volgens die Woord van God wandel sodat ons ook onberispelik en opreg kan wees, kinders van God sonder gebrek te midde van ‘n krom en verdraaide geslag onder wie ons skyn soos ligte in die wêreld (Fil. 2:15 ).
As ons in die lig van die Here se aangesig wandel, dan sal Sy lig deur ons op die wêreld daarbuite skyn. Maak dus seker dat jy naby aan die Here bly en dat jou voetstappe in sy Woord geanker is. Die psalmis het gesê: “Die opening van u woorde gee lig” ( Psa. 119:130 ). Ons weet wat die bron van geestelike lig is, naamlik die Here Jesus en Sy Woord, en dit is ons opdrag om dit in die wêreld te laat skyn. Indien ons sou nalaat om die lig van ‘n donker wêreld en die sout van ‘n bedorwe aarde te wees, sal die wêreld nog vinniger versleg en deur boosheid verswelg word.
God wil Homself deur Sy Gemeente aan die wêreld openbaar, en ons het ‘n opdrag om dit te doen ( Matt. 28:19 ). Ons moet soos ‘n stad wees wat bo-op ‘n berg is, en wat ter wille van God se Koninkryk deur almal gesien kan word ( Matt. 5:14 ). Neem jy ‘n standpunt vir die saak van die Here in, of hou jy dalk ‘n lae profiel ter wille van persoonlike gerief en ‘n lewe van eiebelang?
Persoonlike toewyding.
Dit is ‘n aangrypende gedagte dat ons lede van die liggaam van Christus op aarde kan wees. Ons moet hierdeur aangespoor word om as geroepe heiliges na hoër vlakke van reinheid, opregtheid en diensbaarheid te streef.
Ons moet altyd besef dat Jesus Christus die Hoof van die Gemeente is, en nie een of ander menslike ampsdraer nie. Mag ons nooit tot die vlak van die Gemeente in Éfese verval nie, aan wie Christus gesê het: “Ek het dit teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het” ( Open. 2:4 ).
Laat dit liewer ons uitdaging wees om soos die Gemeente in Filadelfia te wees wat die Woord van die Here bewaar en Sy Naam nie verloën het nie ( Open. 3:8 ). Laat ons “kragtig stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is” ( Judas 1:3 ). Ek wy my daaraan toe om ook op leerstellige gebied nie die gebooie van mense te leer nie ( Mark. 7:9,13 ), maar slegs die onvervalste melk van die Woord aan mense te bedien.
Dit is ook almal van ons se taak om ander dissipels op te lei, sodat die evangelie sy snelle loop kan neem
( 2 Thess. 3:1 ) en die bruilofsaal vol kan word ( Luk. 14:23 ).
Prof. Johan Mallan.